Lucerne article
| 18th February 2019
Vestig besproeiingslusern suksesvol
Die opbrengspotensiaal en produksieleeftyd van enige lusernaanplanting is onderhewig aan die suksesvolle vestiging daarvan. Die definisie van suksesvolle vestiging sal vir elke besproeiingslusernboer verskil. Sommige Suid-Afrikaanse boere is met saailingtellings van 250 saailinge per m2 kort na vestiging tevrede terwyl ander vir minstens 600 saailinge per m2 mik. Elke boer het ‘n ander prentjie van hoe sy stand kort na vestiging moet lyk. Daar word dikwels verkeerdelik gepoog om ‘n beter saailingstand te behaal deur slegs die saaidigtheid te verhoog. Daar is egter meer effektiewe maniere om dit te doen. Die volgende faktore, waaroor elke boer tot ‘n meerdere of mindere mate beheer het, moet in ag geneem word:
- Grondtipe: Die vertrekpunt vir die vestiging van ‘n intensiewe, meerjarige gewas soos lusern behoort altyd ‘n grondontleding te wees. Fisiese, chemiese en biologiese eienskappe van die grond moet aan die boer bekend wees, sodat regstellings gemaak kan word en vestigingstegnieke aangepas kan word om sukses te verseker. Die mate waartoe grondtipe die ontkieming van saad en opkoms van saailinge beïnvloed, hang van verskeie faktore af, waarvan vog die belangrikste rol speel:
- Sommige gronde het inherent ‘n beter voghouvermoë as ander, maar deur bewaringsboerdery praktyke te volg kan hierdie vermoë oor tyd verbeter word.
- Party gronde kan met implemente, inherent fyner bewerk word as ander. Deur vroegtydige beplanning kan die verlangde saadbed met chemiese- en meganiese regstellings in meeste gronde verkry word.
- Klimaat: Ons het nie beheer oor die klimaat nie, maar ons kan ‘n planttyd met redelik voorspelbare klimaat kies:
- Herfsaanplantings bly die mees suksesvolste aanplantings itv saalingvestiging, opbrengspotensiaal en produksieleeftyd. In meeste lusernproduksie areas is middel Maart tot einde April die ideale planttyd.
- Besproeiingslusern is afhanklik van goeie besproeiingskedulering vir suksesvolle vestiging. Die grondprofiel moet reeds deurnat wees teen planttyd en net na vestiging behoort die bogrond klam gehou te word totdat al die saailinge deur die oppervlak gebreek het. Dit mag op sommige swaarder gronde nodig wees om net na vestiging met ‘n swaar benatting te begin, waarna gereelde (daagliks indien moontlik) benattings benodig word. Waterkwaliteit kan die ontkieming en saailingoorlewing beïnvloed en moet in ag geneem word voor daar lusern gevestig word.
- Saadbed: ‘n Saadbed behoort sover moontlik onkruidvry te wees. Die regte planttyd verlaag alreeds onkruiddruk, maar chemie of grondbewerkings kan ook in aanloop tot planttyd herhaaldelik gebruik word om onkruiddruk te verlaag. Die saadbed moet ook fyn, ferm en gelyk wees om suksesvolle vestiging moontlik te maak:
- Fyn – klonte kleiner as druiwekorrels is ideal. Op swaarder gronde kan klonte wat effens groter is aanvaarbaar wees. Indien daar te veel groot klonte is kan lusernsaadjies maklik te diep val met te min saad-grond kontak om te ontkiem. Indien ‘n saadjie so diep wel ontkiem, kan dit moontlik nie die oppervlak bereik nie.
- Ferm – saad moet in goeie kontak met grond wees vir wateropname om plaas te vind. ‘n Saadbed moet ferm genoeg wees dat ‘n mens nie spore dieper as 13mm (halwe duim) trap nie. Die grond moet egter ook los genoeg wees om wortelontwikkeling, wortelgroei en opkoms van saailinge te verseker.
- Gelyk – ‘n gelyke saadbed verseker dat water nie op party plekke wegloop en op ander plekke staan nie. Waar water staan behoort saad te ontkiem, maar kan saailinge versuip. ‘n Gelyke saadbed vergemaklik ook al die sny-, hark- en baal-aksies wat oor die leeftyd van die lusern gaan plaasvind.
- Plantmetode: Daar moet gepoog word om lusernsaad eweredig te versprei en in die boonste 13mm (halwe duim) van die grondoppervlak te plant. Lusernsaad is baie fyn en akkurate hantering is nie met alle planttoerusting moontlik nie. Bestrykte saad is effens groter en het beter balistiese eienskappe as onbestrykte saad. Nog voordat enige voordele van die chemiese- en biologiese komponente in die bestrykingsstof sigbaar is, kry elke lewende saadjie reeds ‘n beter kans op ontkieming en oorlewing, danksy die fisiese eienskappe van bestrykte saad. Dit word toegeskryf aan die akkurate saadplasing, eweredige verspreiding en goeie saad-grond kontak wat met bestrykte saad behaal word.
- Saadkwaliteit: Saad afkomstig van ‘n betroubare saadmaatskappy sal voldoen aan die suiwerheids – en kiemingsstandaarde. Goedkoop saad raak baie duur wanneer dit van swak gehalte is.
AGT beskik oor top kultivars in dormansiegroepe 7 (Icon) en 9 (SuperSonic). Kontak AGT landboukundiges of agente vir tegniese ondersteuning en kultivaropsies vir die 2019 seisoen:
Hoofkantoor: | 011 762 5261 |
Niels Harmuth (Tegniese bestuurder): | 082 335 9921 |
Cliffe Deacon (Verkope nasionaal): | 083 777 7545 |
Arno de Lange (Hartswater): | 082 412 1313 |
Andreaco le Grange (Douglas): | 076 152 0739 |
Dirk Coetzee (Cradock): | 076 791 4245 |